Home Community Huis Immanuel – ‘God met ons’

Huis Immanuel – ‘God met ons’

1677
0

“Vanaf 2011 tot 2019 het ek vanaf Pearly Beach vanuit my tuispraktyk gewerk,” vertel suster Tertia Scholtz, wat geen bekendstelling nodig het nie.  “Pasiënte met ‘n verskeidenheid van siektetoestand onder lede, was vanaf Pearly Beach tot by De Kelders onder my sorg, waar ek vir tuisversorgers gereël het.”

Gedurende Augustus 2019 het Tertia Huis Immanuel in Kleinbaai geopen.  “Byna direk daarna het COVID-19 uitgebreek, maar ek kon daarin slaag om my span versorgers te behou,” vertel sy.  “Ondanks die pandemie het ek in Maart 2021 na Gansbaai verhuis, waar Huis Immanuel tans is.”  Nie een van haar personeellede het hul werk verloor nie, ondanks die moeilike omstandighede as gevolg van die pandemie.  “Dit is waarom ons praat van Immanuel, God met ons,” sê sy.

Tertia en haar seun, Theunis Scholtz is die gesamentlike eienaars van Huis Immanuel.  Theunis is ‘n gekwalifiseerde paramedikus, met Tertia se ander twee kinders wat ook in een of ander medisinale- of mediese beroepe staan.  Hulle is Delanie (46) in Pretoria, Karin (44) in Nieu-Seeland en Theunis (40) in Gansbaai.  “Ek kan darem met 6 kleinkinders spog,” vertel Tertia.

Aanvanklik is daar 7 pasiënte wat versorg is, maar op Woensdag 1 September 2021 is nog 3 pasiënte opgeneem.  Tertia sê die tehuis kan 12 pasiënte versorg, maar sou daar ‘n krisis ontstaan, kan sy tot 20 pasiënte inneem.  Die versorging by Huis Immanuel sluit onder andere palliatiewe-versorging (palliative care), dimensie-versorging (dimentia care) en verswakte bejaardeversorging (frail care) in.  “Mens moet rekening daarmee hou dat byvoorbeeld dimensie, slegs ‘n ‘sambreel’-benaming is,” verduidelik Tertia.  “Daaronder sorteer ‘n verskeidenheid van brein-disfunksies, waarvan ‘alzheimers’ en ‘parkinsons’ maar twee van die bekende voorbeelde is.”  Sy sê ook dat dit in die meeste gevalle die familie is wat dit baie moeilik vind en nie die pasiënte nie.  Laasgenoemdes is onbewus van hulle siektetoestande.  “Ons praat dus hier van 50% familie-versorging en 50% pasiënt-versorging,” verduidelik Tertia. 

Daar is tans 8 personeellede wat op Woensdag 1 September 2021 na 10 uitgebrei het.  Die verhouding tussen pasiënte en versorgers is 4 pasiënte per versorger.  Spesifieke en spesiale diëte speel ook ‘n baie groot rol in die versorging van die pasiënte.  Voorsiening is ook getref vir stiltetye (boekevat) en tafelgebede wat gedoen word.  “Ek is gelukkig dat Mariaan Lerm, ‘n afgetrede skoolhoof en wie se man nou sowat 2 jaar by ons is, leiding neem met aandgodsdiens,” sê Tertia.     

Tertia se dogter in Nieu-Seeland het pragtige rooi serpies aan haar en die personeel gestuur, elk met sy of haar spesiale Bybelversie wat daarop uitgedruk is.

Huis Immanuel is op die hoek van Kerk- en Voortrekkerstrate in Gansbaai geleë.  Vir navrae kan 028 047 4577 of 082 742 4648 geskakel word, of stuur ‘n e-pos aan info@huisimmanuel.co.za.

Hardus Botha

Previous articleJoanne Bester betrokke in Wilde-Weste Trollie-Jaagtog
Next articleMeer as net gewone koerierdienste