Home Nuus Joanne Bester betrokke in Wilde-Weste Trollie-Jaagtog

Joanne Bester betrokke in Wilde-Weste Trollie-Jaagtog

1069
0

-LSG se Gansbaai OK Foods Trolley Run-

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring om so deur Gansbaai OK Foods te hardloop en te weet alles wat ek vandag in hierdie trollie gooi, is gratis en verniet,” het ‘n opgewonde Joanne Bester gesê.  Sy het die 1ste prys van die lootjielyste in ‘n fondsinsamelingsprojek deur Laerskool Gansbaai (LSG) se Leerlingraad, gewen: ‘n Trolley Run in Gansbaai OK Foods!    

 

Joanne het met R3 857.94 se kruideniersware en goedere in ‘n trollie by die kassier aangekom.  Soms kan dit maar ‘n vervelige taak wees om kruideniersware te gaan koop.  Joanne het egter gewys wat ‘n mens alles binne 2 minute in ‘n trollie kan pak – natuurlik onder jolige toejuiging!

 

 

Chris van Rensburg, eienaar van Gansbaai OK Foods, was eweneens opgewonde agter die mikrofoon waar hy Joanne aangemoedig het.  Hy het selfs aan haar die geleentheid gebied om eers so ‘n bietjie ‘rond te loer’ in die winkel, voordat sy met die Wilde-Weste Trollie-Jaagtog begin het.  Die Hoofdogter, Tilde Kok, het Joanne met skreeuende trollie-bande agternagesit en moes soos ‘n wafferse Olimpiese-atleet hardloop om by te bly, terwyl Joanne net gegryp en ingegooi het.  Die dag het soveel ‘vetpret’ opgelewer dat ‘n bietjie humor in die berig nodig was.

Die opwindende gebeurtenis ter sprake, was die laerskool se Gansbaai OK Foods Trolley Run op Saterdag, 28 Augustus 2021.  Hierdie suksesvolle projek is deur die Leerlingraad, onder leiding van drie opvoeders, Devin Sauls, Graham Stieger en Lisa Germishuys, geloods.  Die pragtige bedrag van R42 475 is deur middel van lootjie-verkope en borgskappe ingesamel.  Almal wat by die projek betrokke was, is hartlik deur die hoofseun en hoofdogter, Stefan Stieger en Tilde Kok, bedank.  

Chris, wat die Trolley Run ten volle geborg het, het die Leerlingraad gelukgewens met die sukses wat hulle bereik het.  “Ons staan almal saam in hierdie plattelandse dorp van ons en dit was wonderlik om vandag se opgewondenheid te kon aanskou,” het Chris gesê.  “Ons is baie, baie trots op Laerskool Gansbaai, en kyk net na hierdie projek se resultate!”  

 

Snoepie Geskenkbewys vir leerders:

Wenners en Pryse:

 

 

 

 

1ste, R150 – Yara du Plessis, wat R1 400 ingesamel het; 2de, R100 – Hanro Coetzer, wat R1 200 ingesamel het; 3de, R50 – Danielle Stevens, wat R800 ingesamel het.  Dan was daar ook 5 leerders wat elk R800 ingesamel het.  ‘n Geluktrekking is gehou om die wenner te bepaal.

Pryswenners op lootjielyste:

 

1ste prys, ‘n Trolley Run by Gansbaai OK Foods – Joanne Bester (Lootjielys: Hugo Bester); 2de prys, 2 nagte by Protea Gastehuis, Panorama – Manny de Paiva (Lootjielys: Aldone Klotz); 3de prys, Visions Styl’nChic Geskenkbewys – Hayley Anthony (Lootjielys: Shuhayne Blankenberg).

 

 

Die Leerlingraad het soos een man saamgestaan en gesê: “Baie, baie dankie, Oom Chris, vir Gansbaai OK Foods se reuse aandeel in hierdie projek wat ons geloods het!”  Op dieselfde noot bedank die redaksie van Gans-Berg Nuus vir Chris met Gansbaai OK Foods se volgehoue ondersteuning van ons weeklikse gemeenskapskoerant.

 

Ter afsluiting van ‘n paar gesellige oomblikke, het Chris so ewe aangekondig: “Joanne het die Leerlingraad genooi om môre na Kerk by haar te gaan eet!”  Joanne het die aankondiging met ‘n verleë laggie begroet. 

 

 

Hardus Botha

Next articleHuis Immanuel – ‘God met ons’