Die weer en Gansbaai se duiwe
Weerstoestande het ‘n groot invloed op vliegduiwe, tog is daar soms ‘n verrassing. Verlede week was so ‘n naweek toe die duiwe op Britstown (590km) losgelaat is. Teen alle verwagtinge het die duiwe al om 13:44 in Gansbaai aangekom.
Indien mens die paar dae voor Donderdag se mandjie-aand in ag neem, was dit maar koud, triestig en reënerig. Terselfdertyd was die weervoorspelling vir Saterdag alles behalwe dít wat die duiweboere verwag het. Die voorspelling was dat ‘n wind skuins van agter vanaf Britstown tot by Beaufort-Wes sou waai en dan van daar af na Gansbaai skuins van voor. Dit was nogal ‘n sterk wind wat hier in Gansbaai gewaai het. Op so ‘n dag neem dit die duiwe sowat 8 ure om die huis te bereik. Dit is waarom dit so ‘n verrassing was toe die duiwe ‘n volle uur vroeër hier was. Gelukkig het die gerug vinnig versprei dat Touwsrivier voor 12:00 geklok het, wat beteken het dat die duiwe ongeveer 14:00 in Gansbaai sou wees – anders was ‘n paar manne weg van hulle hokke af gevang.
Na die uitlui van klokke Saterdagmiddag, was dit duidelik dat die duiwe verspreid in Gansbaai ingekom het, maar meer na Baardskeerdersbos se kant toe. Soos dit nou al ‘n paar keer gebeur het, het ‘n junior weer die Jong Duif resies gewen, naamlik Marisca Fourie. As die dogter van wyle Louis en Careen Fourie, maak sy die hele Gansbaaiklub trots. Ons kan net dink hoe trots haar vader sou gewees het.
Uitslae:
Jaaroud duiwe: Marisca Fourie 1; An-Mari Germishuys 2, 6; Louis Groenewald 3, 20; Danielle-Ann Stevens Jnr 4; Jurie Swart 5, 13, 18; Norman Stevens 7; Japie Swart 8, 19; Ruan Kruger 9, 10, 17; Carli Swart Jnr 11; Charl Kruger 12; Norman Stevens Snr 13, 15, 16.
Ope Duiwe: An-Mari Germishuys 1, 3; Norman Stevens Snr 2; Ruan Kruger 4, 20; Norman Stevens 5; Louis Groenewald 6, 9, 12, 13, 17; Jurie Swart 7, 15; Hilton Hitge 8; Danielle-Ann Stevens Jnr 10, 19; Charl Kruger 111, 18; Japie Swart 14; Carli Swart Jnr 16.
Baie geluk aan die Baardskeerdersbos juniors en seniors, julle laat ‘n mens se hart warm klop.
Unie-uitslae:
Wat die Unie-uitslae betref, het Gansbaai Posduifklub hulself deeglik laat geld.
Jaaroud Duiwe: Marisca Fourie 4; An-Mari Germishuys 6; Louis Groenewald 8; Danielle-Ann Stevens 9; Jurie Swart 18.
Ope Duiwe: An-Mari Germishuys 8, 11; Norman Stevens Snr 10; Ruan Kruger 13; Norman Stevens 14.
Die naweek wat voorlê, is die langste afstande van die vliegseisoen, naamlik vanaf Bloemhof (975km) en Modderrivier (770km). Sterkte aan almal met hulle duiwe.
Hou julself veilig en kry maar die inenting. Covid is nog met ons en dit lyk of dit nog lank by ons gaan bly.
Groete,
André Vorster
072 248 8818