Home Arts-culture-and-events Versamelaars-fanatikuste soos min John en Nelia McGregor-

Versamelaars-fanatikuste soos min John en Nelia McGregor-

1160
0

Indien daar ‘n woord soos ‘versamelaars-fanatikuste’ is, dan is John en Nelia McGregor in De Kelders sonder twyfel so ‘n egpaar.  Om ‘n besoek aan hierdie egpaar af te lê, is ‘n belewenis.  Die doel van die besoek was om ‘n artikel oor John te skryf, maar waar dit by hulle versamel-items kom, is hierdie egpaar soos vinkel en koljander – die een so erg soos die ander.

‘n Netjiese, kompakte voortuintjie verwelkom die besoeker met die oopmaak van die voorhekkie.  Dan stap jy die huis binne…en wonder vir ‘n oomblik of jy jouself in ‘n museum bevind.  Van vertrek tot vertrek en van muur tot muur is dit ‘n verskeidenheid van versamelstukke…nie rond en bont of slordig of onoordeelkundig uitgestal nie.  Nee, byna professioneel, met absolute presiesheid en ‘n passie wat ‘n toonbeeld van deeglike kennis is oor dít waaraan jy jouself staan en verwonder.

Gans-Berg Nuus is ook trots op John se vrywillige betrokkenheid by ons plaaslike gemeenskapskoerant sedert September 2020.  In die uitgawe van 4 September 2020 verskyn sy eerste weeklikse rubriek, History Page, waarmee hy nog nie ‘n enkele uitgawe oorgeslaan het nie.  In die uitgawe van 9 April 2021 word John se eerste weeklikse artikel oor die wonderwêreld van diere, Animal Kingdom, geplaas, waar hy verskeie diere-spesies volledig bespreek.

Versamelaars-fanatikuste:

John se grootste trots is sekerlik sy sowat 100 kameras in ‘n glaskas, té veel om volledig te kan beskryf.  “Dit is hoofsaaklik SLR (Single Lens Reflex) kameras,” vertel hy.  Die verskeidenheid van kameras wat hy oor jare heen versamel het, verskillende make, vorms en selfs bokskameras, is verstommend.  Vanaf ‘n Kallo Pentax, Olympus, Yashica tot by ‘n Kodak, Richo en ‘n Minolta.  John se gunsteling is sy 1938 (83 jaar oud) Leica.  “My versameling is nie te koop nie en die kameras is ook nie sommer net versamel nie, vir my is dit ‘n passie en belegging,” vertel John.  Selfs houtkameras, wat John self gemaak het, presies volgens skaal, pryk in die vertoonkas.           

Die res van versamel-items kan maar net woordeloos besigtig word.  Sowat 35 outydse, donkergroen Gin glasbottels staan ook ‘n kas vol.  Die kleinste sowat 6cm en die grootste 35cm.  John vertel dat dit baie duur versamelstukke is, veral die bottels met ‘n wapen op die skouer van die bottel.  Hy besit ook een wat uit die see uitgespoel het, maar is nie seker watter boot dit was wat gestrand het nie.  John se beste donkergroen Gin-bottel is gedateer 1826 (195 jaar oud) wat hy as ‘n geskenk ontvang het.

Die kameras en Gin bottels is maar net die begin.  Dan volg ‘n groot hoeveelheid knipmesse, sommige vanuit die Tweede Wêreldoorlog.  ‘n Muur met rakke in John se studeerkamer is volgepak met baie ou blikspeelgoed, sleutels en bric-a-brac. John is gaande oor stoom-aangedrewe enjintjies van vliegtuigies, bootjies en treintjies.  “Hierdie 1950 houtbootjie se enjine werk nog,” vertel John trots. Ou hout- en bakelietviskatrolle van hout staan in gelid op ‘n kassie en selfs yster-eierklitsers vanuit die vroëe 1900’s pryk teen die muur. So gaan dit van die een vertrek na die ander vertrek – dit voel of die lys van kosbare versamelitems nooit gaan ophou nie!

Met Nelia se eie kosbare versamelings brei die ‘museum’ nog verder uit. Sy is gek oor ou emaljeware – van ketels, water- en melkbekers,waskom en-bekerstelle, geblomde eetborde, tot outydse seepbakkies wat teen die badkamermuur hang. Kyk jy by hul kombuisvenster uit, sien jy ook die groot hoeveelheid ou emalje advertensieborde – van Frisco snelkoffie tot Canada Dry koeldrank.

John is nie net ‘n versamelaar nie, maar ook baie kunstig.  Sy eie pensketse pryk teen die mure – daar is selfs een van generaal Koos de la Rey!  Laaste maar nie die minste nie, is die egpaar se pragtige versameling van (±15) stokou skilderye van Major, met die kemerkende swart rame en goue strepe aan die binnekant.  Die kosbare lys van besienswaardighede in John en Nelia se woning, staak nou hier – anders sal geen ander nuus in hierdie uitgawe geplaas kan word nie!    

John McGregor se lewenspaadjie:

John is op 2 April 1946 in Belfast, Mpumalanga gebore, “net na Jan van Riebeek se aankoms,” sê sy vrou, Nelia.  As kind het hy tussen King Wiliam’s Town en Kaapstad grootgeword.  Hy voltooi sy skoolloopbaan aan Dale College Boy’s High School in King William’s Town.

Wat min mense waarskynlik weet, is dat John homself as ‘n tandtegnikus in Kaapstad bekwaam het, ‘n beroep wat hy tot in die laat 1960’s beoefen het.  Met genoegsame verfynde kunstalente in hom, beweeg hy oor na grafiese-ontwerp, waar hy by Good Hope Textiles in Kings William’s Town werk.

In 1963 begin hy met fotografie as ‘n stokperdjie wat later in 1974, n na-uurse werk gewrod het, met troues en dies meer waar hy as fotograaf opgetree het.  “Dit het als begin met een van my onderwysers wat my aangemoedig het om vir ‘n fotografiekompetisie in te skryf,” vertel John “… toe kry ek nogal ‘n 1ste prys vir portretstudies”.

In 1974 verhuis hy na Worcester waar hy as grafiese ontwerper by Hex Tex aangestel word.  In 1982 aanvaar John ‘n pos as brailleskrywer by die Pionierskool vir Blindes in Worcester.  Daar werk hy tot en met sy aftrede in 2011. Op 1 Oktober 1993 tree John in die huwelik met Nelia. Na baie jare in Worcester verhuis hul in 2016 permanent na De Kelders. John het 2 seuns uit sy eerste huwelik  – John (getroud met Marizanne) en Stephen (getroud met Teresa), asook twee kleinkinders, Alexander en Lily-May.

Hardus Botha

Previous articleFranskraal Rolbalklub
Next articleBlinds & Flooring Studio, Gansbaai