Home Sport Pigeon Gansbaai Posduifklub:

Gansbaai Posduifklub:

1431
0

Wedvlug is afgelas

Verlede week het ek verwys na ons langste wedvlug van die jaar vanaf Bloemhof en Modderrivier.  Die wedvlug moes as gevolg van swak weersomstandighede afgelas word en na die volgende week uitgeskuif word.  Die bestuur het die besluit op grond van weervoorspellings geneem.  Met verlede Saterdag se weer in gedagte, kan u as leser self besluit of dit die regte besluit was.  Hierdie twee lang wedvlugte sal nou Saterdag 18 September 2021 plaasvind.

Wat die duiwe betref, vir hulle was dit ‘n welkome rus-naweek.  Soos ek voorheen al geskryf het, is rus vir die duiwe net so goed soos oefening, veral wanneer dit by die langpad kom.    

Hier in Gansbaai Posduifklub het die opgewondenheid hoogty gevier.  Vier van ons lede, Jurie en Japie Swart, An-Marie Germishuys en Charl Kruger het duiwe vir die groot wedvlug van Dinokeng Lofts in Gauteng ingeskryf, wat verlede week plaasgevind het.  Dit is ‘n wedvlug met ‘n prysgeld van R450 000, asook ‘n nuwe bakkie wat gewen kan word.  Ongelukkig was daar ‘n ‘kopwind’ reg van voor.  Dus was niemand verras toe daar teen Sondagaand nog geen duiwe by die Dinokeng Lofts duiwehokke terug was nie.

Vroeg die volgende oggend het ons klub se duiwe opgedaag: Jurie en Japie Swart (50ste), Charl Kruger (89ste) en An-Marie Germishuys (90ste).  Hierdie plekke in die wedvlug word as besonderse plekke beskou, aangesien dit net die beste se bestes onder die land se duiwe is wat deelgeneem het.  Baie geluk aan hierdie vier klublede – julle maak Gansbaai en Gansbaai Posduifklub lekker!

Hierdie naweek is dit nou die uitgestelde langpad-wedvlugte vanaf Bloemhof en Modderrivier wat sal plaasvind.  Kom ons hoop die weer gaan hierdie keer saamspeel.  

Tot volgende week wens ek ons lesers ‘n aangename week toe, hou julle en diegene om julle veilig en dra julle maskers.

Posduif-groete!

André Vorster

072 248 8818

Previous articleFranskraal Rolbalklub Toernooie
Next articleGansbaai Gholfklub: Cecil en Joe