Home Nuus Uitsonderlike ou motors ‘vinnig’ te sien

Uitsonderlike ou motors ‘vinnig’ te sien

1634
0

-Erfenisdag, 24 September 2021-

Erfenisdag op 24 September 2021 word gevier met uitsonderlike ou motors op ‘n spesiale roete,” vertel Mimi Finestone van Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK).  “Die roete sal onder andere deur Baardskeerdersbos, Gansbaai, Caledon, Franschhoek en Villiersdorp strek, met Worcester as die dag se eindbestemming.”  B’Bossers en Gansbaaiers kan gerus op die uitkyk wees vir hierdie 26 uitsonderlike ou motors wat op Erfenisdag, Vrydag 24 September 2021 te siene gaan wees.

Die toergroep van 46 deelnemers en 26 ou motors, onder leiding van Pierre Olivier van die SKOMK, vertrek vanaf Halfway Toyota in George op Donderdag die 23ste.  Hulle word voluit en trots deur Recollection Rides ondersteun.  Na die George-wegtrek is die eerste ‘putstop’ by Delish in Heidelberg, voordat daar Swelllendam toe gemik word.  Bestuurders draai daarna die motors se neuse kuswaarts om in die stranddorpie, Arniston te oornag.  Vandaar word die pad na ons omgewing aangedurf en sal die groot groep ou motors gedurende die dag in Baardskeerdersbos, Gansbaai en Caledon gesien kan word.

Op Saterdag die 25ste vertrek die Erfenistoergroep vanuit Worcester en ry verby Montagu, Barrydale en Calitzdorp vir ‘n uithangaand en prysuitdeling in Oudtshoorn.  Daarna keer hulle terug na George via De Rust en Uniondale.  Pierre verwag nie van die bestuurders om in ‘n konvooi te ry nie.  “Sodoende kan elkeen van hulle na hartelus van ompaaie gebruik maak om die onderskeie areas ‘n bietjie te verken,” sê Pierre, ‘n man wat al 9 Erfenistoere aangebied en gereël het.  Belangstellende lesers in ou motorklubs kan gerus die webtuiste, www.scocc.co.za van Southern Cape Old Car Club besoek.

Hardus Botha

Previous articleOverberg Kushengelklub:
Next articleGansbaai Gholfklub