21 Oktober 2021-
Gansbaai se 100-jarige verjaarsdagvieringe begin op 21 Oktober 2021 – en dis net die begin, of sal mens kan sê: “Die ‘launch’ van die feesvieringe!” Van daar af word dit oorweeg om Gansbaai se verjaarsdag oor die daaropvolgende 100 dae te vier, met die fokus op aktiwiteite gedurende naweke. Die idee is om daarmee soveel mense as moontlik by die fees te betrek.
Die feit dat Laerskool Gansbaai reeds in 2006 hul 100ste verjaarsdag gevier het, kan moontlik die wenkbroue laat lig oor Gansbaai se 100-jarige bestaan in 2021. Diegene wat Jan & SD Fourie se boek, Gansbaai – ‘n Besondere streek en sy mense, gekoop het, sal op bladsye 14 en 15 van die dorp se stigtingsdatum kan lees. Die volgende word aangehaal: “Die inligting is nagevors in die kantoor van die Landmeter-generaal in Kaapstad en volgens alle navrae en ‘n telefoniese onderhoud met prof Matilda Burden, kultuurhistorikus aan die Universiteit van Stellenbosch, is die datum van registrasie van eerste transportakte van ‘n dorp ook die datum wat gebruik word vir die ontstaan van ‘n dorp. Gansbaai se amptelike ontstaangeskiedenis begin dus op 21 Oktober 1921.” Dus, ongeag hoeveel jare gelede die area al as ‘n ‘dorp’ met ‘n skool en dies meer begin funksioneer het, is ons dorp se ‘geboortedatum’ dus 21 Oktober 1921 en basta met die res!
‘n Groot aantal voorstelle vir die feesvieringe is tydens ‘n vorige vergadering ingedien. Belangstellendes kan steeds voorstelle by Gansbaai Toerismekantoor indien. Hou net die idee van ‘n tydperk van ‘100-dae’ in gedagte.
Enkele voorstelle is:
‘n Bootrit op ‘n Pelagiese Vissersboot; ‘n lang seekostafel waarby restaurante betrek word; vlae regdeur die dorp; stel ‘n lys saam van Erfenis-geboue; ‘n uitstalling van ou koerante en tydskrifte met relevante nuusgebeure; ‘n toer deur die ou begraafplaas om ou Gansbaaiers se grafte te besoek; vertoon van geskiedkundige foto’s in die Toerisme-saal; en veel, veel meer!
Hierdie dien as ‘n ‘lusmaker’ vir groot feesvieringe wat gedurende die naweek van 21 Oktober 2021 van stapel gestuur gaan word. Kom en word deel daarvan – elke inwoner (en besoekers) se insette word benodig om ‘n reuse sukses van hierdie mooi inisiatief te maak.
Vir navrae kan Gansbaai Toerisme se bestuurder, Glenda Kitley by 072 291 5564 geskakel word, of stuur ‘n epos aan haar by glenda@gansbaaitoerism.co.za.
Hardus Botha