Verlede week was ‘n baie besige week vir die duiwe-boere, asook vir Gansbaai. Dit was die Herberg-aan-See se basaar, drie markte oor die naweek – van ‘n kunsuitstalling tot by ‘n skaapkopete. Dan was daar nog al die spesiale funksies wat oral aangebied is, wat die duiwe-boere min tyd gegee het om behoorlik aandag aan die duiwe te skenk.
Daar is wel tyd afgestaan sodat die duiwe Donderdagaand gemandjie kon word vir Hopetown (690km). Soos ek die vorige week berig het, is dit nou van kardinale belang vir duiwe-boere wat voor wil vlieg vir die jaar in Gansbaai Posduifklub, om te verseker dat hulle ‘n duif in die voorpak moet hê wat die dorp sal inkom. Daar is toe verlede Saterdag vir die duiwe so tussen deur al die verrigtinge wat hier plaasgevind het, gewag.
Hoe later dit geword het, met geen duiwe wat gearriveer het nie, het boodskappe begin rondvlieg dat die temperature in die Karoo oor 31 grade is. Siende dat dit een van die duiwe se grootste vyande is, het die hoop dat die duiwe voor donker by die huis sou kom, al hoe skraler geword (sien foto). Groot was die verligting toe daar vier duiwe voor donker in Gansbaai gearriveer het.
Ek kan net noem dat die twee pakke duiwe vir Hopetown 1 en Ope Hopetown 2 ope, gesamentlik om 06:30 gelos is. Dit het tot gevolg gehad dat daar Sondag geklok moes word. Drupsgewyse het die duiwe uiteindelik by hul hokke uitgekom. Met die skrywe van hierdie artikel was nog baie duiwe uitstaande.
Met Sondagaand se uitlui was die resultate as volg:
Hopetown 1 Ope: Louis Groenewald 1, 3, 9, 15, 16; Jurie Swart 2, 7, 12; Carli Swart 4, 13, 14, 17; Marisca Fourie 5; Charl Kruger 6, 8; Ashlen Leonard 10; Norman Stevens Snr 11, 18; Norman Stevens Jnr 19, 20.
Hopetown 2 Ope: Norman Stevens B 1; Carli Swart 2, 4, 10; Norman Stevens Snr 3, 8, 13; Louis Groenewald 5, 6, 9, 20; Danielle-Ann Stevens 7; Ashlen Leonard A 11; Ruan Kruger 12; An-Mari Germishuys 14, 19; Jurie Swart 15, 17; Charl Kruger 16; Ashlen Leonard B 18.
Wat die Unie-uitslae betref, wen Gansbaai Hopetown 1 en 2, wat ‘n mooi prestasie is – ‘n veer in die hoed vir Gansbaai Posduifklub.
Hopetown 1: Louis Groenewald 1, 6; Jurie Swart 3.
Hopetown 2: Norman Sevens 1; Carli Swart 2; Norman Stevens Snr 5.
Baie geluk aan die wenners, julle maak Gansbaai lekker.
Groete tot volgende keer!
André Vorster
072 248 8818