-“Sit aan die lig sodat ek julle kan hoor!”-
Chantelle Pretorius (29), Mej Dowe Suid-Afrika 2018, was die gasspreker tydens die Dames Motiveringsontbyt van Saterdag 25 September 2021 in die Birkenhead Bootklubsaal. Met verwysing na die lees van lippe in sterk skemer of donker, het sy die kostelike opmerking gemaak: “Sit aan die ligte sodat ek julle kan hoor!”
“Die tema van my gesprek met julle is ‘Embrace Life’,” het Chantelle gesê. “Ek vertaal dit in ‘Boere-Afrikaans’ na ‘Omhels die Lewe’, want vir my beteken dit net een ding: Leef Voluit!” Die gesellige ontbyt is deur Gansbaai Toerisme se Feeskomitee vir Gansbaai se Erfenisnaweek gereël.
“Dames, daar is een ding wat verkeerd is van vrouwees – ons vergeet soms hoeveel ons werklik werd is,” was een van haar motiverings-opmerkings. Sy vertel dat sy in haar kinderjare gereeld onder ‘boelies’ se gespot moes deurloop as gevolg van haar gehoorgestremdheid. “Boelies sal altyd deel van ons samelewing wees, maar ek sê altyd: aanvaar boelies, hulle leer jou wat jy níé moet wees nie!”
Chantelle het dit beklemtoon dat selfbejammering en tou opgooi nie ‘n uitweg vir enige gestremdheid of ander probleme is nie, al is die pad nie altyd gelyk nie. “Ek wil jou vandag uitdaag: te veel mense laat hulself en hul emosies rondgooi deur woorde en seerkry. Moenie toelaat dat die vyand julle vreugde, hoop en energie steel nie – besluit vandag: ‘Let go, let God!’ Moenie die handrem van jou omhelsing van die lewe optrek nie en maak ‘n verskil waar jy geplant is, elke dag!”
Vir Chantelle laat die volmaan met ‘n goue ring rondom dit, haar dink aan werkwoorde soos: toevou, nadertrek, binnehou, omgee, koester en beskerm. “Ons moet ook op dankbaarheid fokus, want ‘n dankbare mens is ‘n gelukkige mens!” Enkele ander kosbare opmerkings deur haar was: wat ookal die omstandighede van jou verlede, jy het die reg om terug te draai; niks is onmoontlik nie – jou houding sal die deurslag gee; laat jou lig elke dag skyn, kyk vorentoe, kyk boontoe, gee smaak aan ‘n smaaklose wêreld; jy kán op vlerke van hoop vlieg; ‘n geleentheid wat ons vandag laat verbygaan, is vir altyd verby.
“Gebruik die goue sleutel tot jou sukses: glo in jouself, voel gemaklik met jouself, moet nooit jou wense en drome prysgee nie. Jy is ‘n potlood wat merke in die lewe maak en God is die uitvëer van daardie merke en foute, as jy toelaat dat God jou uitvëer is.”
Chantelle se ‘Oorwinningslewe’
Chantelle is op 16 Oktober 1992 gebore en het op 7 maande breinvliesontsteking opgedoen. Dokters het haar ‘n 5% kans op oorlewing gegee. “Na ‘n stryd om te lewe en baie gebede, het ek oorleef en ek glo dit was ‘n wonderwerk,” vertel sy. Op 11 maande het sy weer breinvliesontsteking gekry en die newe-effekte het doofheid tot gevolg gehad. Op 4 jarige ouderdom was sy ‘n kandidaat vir ‘n kogleere inplanting – “en vandag staan ek voor julle om my oorwinningsverhaal met julle te kan deel!”
Chantelle vertel dat haar ouers by die Carl du Toit Sentrum, waar dowe kinders geleer word om te praat, ingeskakel het. “Dit was ‘n moeilike tyd vir my ouers wat elke drie maande Kaap toe vir twee weke moes gaan, maar alles was die moeite werd, aangesien ek geleer het om met gemak te kommunikeer.” Gehoorgestremdes is voluit ingestel op liggaamstaal en Chantelle het verduidelik dat ‘lyftaal’ harder as mondelinge spreektaal praat. In Julie 2018 is Chantelle na Praag waar sy Suid-Afrika in die Mej Dowe Heelal-kompetisie verteenwoordig het, met sowat 90 gehoorgestremdes wat deelgeneem het.
Chantelle het die dames meegedeel dat dit baie moeilik was om by die studentelewe aan te pas. Mettertyd het die dosente haar beter begin verstaan en kon sy deurdruk om haar B.Ed.-graad (Grondslagfase) in 2015 te verwerf. Tans hou sy skool in Barkly-Oos, Oos-Kaap – waar sy ook aan ‘n boer verloof is!
Hardus Botha