Home Sport Elf jaar gelede se ‘titaniese’ stryd word voortgesit

Elf jaar gelede se ‘titaniese’ stryd word voortgesit

1347
0

-‘Trawlers’ versus ‘Dorpenaars’-

Gelukkig word hier nie na gevegte tussen bemanningslede van ons Pelagiese vissersbote en dorpenaars verwys nie.  Dit is twee veerpyltjie-spanne (darts) van 10 jaar gelede – permanente bemanningslede van die trawlers versus dorpenaars.  

Op die spel is die gesogte wisseltrofee, die Mike Geldenhuys Wisseltrofee.  Hierdie trofee is in 1995, sowat 26 jaar gelede, deur Mike Geldenhuys, eienaar van die pelagiese vissersboot, Rietgans 2, aan die destydse Walkerbay Dart Club geskenk.  Die laaste veerpyltjie-kompetisie tussen dié twee spanne het in 2011 plaasgevind.

 

Nou, ná 10 jaar, word daar geskiedenis gemaak – hierdie ‘titaniese’ veerpyltjiestryd word voortgesit.  Die kompetisie sal oor drie rondtes gehou word.  Die eerste been van die kompetisie het op Donderdag, 30 September 2021 in die Mustang Sally Pub & Grill plaasgevind.  En die wenners?  Die ‘Dorpenaars’!  Nou is daar nog twee kompetisies, met die spanning wat hoog loop.

Die Trawlers se span bestaan uit Boeta Wessels, Boetie Rock, Brandon Groenewald, Handri Lourens, Micky Otto en Petrus Bester.  Daarteenoor is die Dorpenaars se span Anton Dumas, Christo Spanellis, Johan Fourie (Vaatjie), Riaan Basson, Rupert Roux en Tiaan Swart.

‘n Interessante deel van hierdie geskiedkundige gebeure, is dat daar net 4 van die oorspronklike spelers na 10 jaar oorgebly het – 2 Trawlers en 2 Dorpenaars.  Vir die Trawlers is dit Boetie Rock en Handri Lourens en vir die Dorpenaars Rupert Roux en Johan Fourie (Vaatjie).

Na afloop van die derde en finale kompetisie, sal Mike Geldenhuys persoonlik sy wisseltrofee aan die wenspan oorhandig.  Die Dorpenaars is nou 1 voor.  Die volgende twee kompetisies sal bepaal wie die ‘helde’ gaan wees.

Die name van die wenspanne in die kompetisies tot en met 2011, is op die trofee se voetstuk aangebring.  Die Dorpenaars het 5 kompetisies gewen – 1995, 1997, 1998, 1999 en 2000.  Die Trawlers het 3 kompetisies gewen – 1996, 2002 en 2011.  ‘Lank lewe die Mike Geldenhuys Wisseltrofee’!

 

Hardus Bothav

Previous articleGansbaai Gholfklub: Houespel behoort aan Charlie Bent
Next articleUilenkraal se Kliphuis nou Gastehuis