Home Nuus Uilenkraal se Kliphuis nou Gastehuis

Uilenkraal se Kliphuis nou Gastehuis

1611
0

Die bekende ou plaashuis (kliphuisie) by De Uijlenes op die plaas Uilekraal, is as ‘n praktiese gastehuis omskep, sonder dat enige skade aan die oorspronklike en antieke aanskoulikheid daarvan in die slag gebly het.  Van buite af is dit steeds die kliphuisie van vele jare gelede – op die walle van ‘n sytak van die Uilenkraalsrivier, omring deur lowergroen grasperke.  Selfs in die binnekant is die minimum verander.   

SD Fourie, Gansbaai se bekende skrywer, maar ook geskiedskrywer, meld in ‘n artikel (gedateer 16 Augustus 2002) wat sy geskryf het, dat die plaas Uilekraal een van die oudste plase in die Strandveld is.  Die eienaars, Flippie en Staci Groenewald, het ‘n geraamde afskrif van die artikel laat maak, wat ‘n ereplek teen die sitkamermuur gekry het.  Die artikel is as hoofbron vir die doeleindes van hierdie berig gebruik, met waardering teenoor SD Fourie.

Na verloop van vele jare, vanaf 1726, koop Cornelis Johannes Groenewald gedurende 1856 ‘n gedeelte van Uilenkraal van Johannes Fourie.  Johannes het ook sowat een morg van die plaas aan die Biskop van die Anglikaanse Kerk in Kaapstad geskenk.  Dié gedeelte was aan die plaashuis se kant van die pad.  Ongeveer ‘n honderd jaar later is die gedeelte van die grond deur die Groenewalds verruil vir ‘n gedeelte aan die anderkant van die pad, wat in 2002 steeds aan die Anglikaanse Kerk behoort het.

Cornelis Groenewald bou toe vir hom die kliphuisie langs ‘n sytak van die Uilenkraalsrivier in die omgewing bekend as die Groot Sloot.  Hy dek die dak met duineriet, bou ‘n stewige planksolder en buitetrap.  Die rooibruin kaiingklip is met ossewaens uit die rooi Strandveld aangery en klei uit die omgewing is vir die messelwerk gebruik.  Die huis was pas klaar gebou, toe word die koms van die eerste klein Groenewaldjie aangekondig.  Op 17 Januarie 1859 word Jacobus Philippus Groenewald in die kliphuisie gebore.

Die ‘nuweling’ was die grootvader van Cornelis (Neël) Swart Groenewald.  Hy is in 1977 met Aletta Conradie getroud – altwee is bekende mense in Gansbaai, Baardskeerdersbos en die omgewing. Neël en Aletta het die kliphuisie pragtig tot sy oorspronklike glorie restourasie en selfs die solder is weer benut.  Neël en Aletta het besluit om rustiger te raak en hulle seun, Flippie (Philippus Coenraad) Groenewald en sy vrou, Staci het die bedryf van die plaas oorgeneem – en daar is reeds ‘n volgende 7-jarige Neël (Cornelis Coenraad) Groenewald wat in die ry staan om die plaas weer by sy pa oor te neem. 

 

Flippie en Staci het die restourering van die kliphuisie ‘n stap verder geneem.  Dit kan nou as ‘n volwaardige gastehuis benut word.  Die oorspronklike kaggel en enkele ander oudhede het behoue gebly.  Op die solder staan rye enkelbeddens vir slaapplek aan heelparty besoekers.  Sonder twyfel is die kliphuisie in ‘n gastehuis met ‘n ‘plaasatmosfeer’ omskep.  “My Neël het wel die plaas aan Flippie oorgegee, maar hy kan maar nie tot ruste en aftrede kom nie, hy is meer op die plaas as by ons huis in Uilenkraalsmond,” vertel Aletta met ‘n glimlag.

Hardus Botha

Previous articleElf jaar gelede se ‘titaniese’ stryd word voortgesit
Next articleGansbaai SAPS Intervention with NHW’s