“Ek verf enige ding wat in my pad kom,” vertel Dorothy Janse van Vuuren van Pearly Beach. “As jy lank genoeg stil sit tydens die onderhoud, verf ek jou ook!” Kyk mens na Dorothy se huis van buite af, maar ook binne waar dit byna soos ‘n museum lyk, kan jy dink dat sy nogal bedoel wat sy sê. Daar was geen formele kunsopleiding nie, sy het net een oggend opgestaan en besluit sy gaan begin verf en skilder.
Dorothy en haar eggenoot, Leon, is oorspronklik van Johannesburg en woon die afgelope 5 jaar in Pearly Beach. “Ons is 25 jaar saam, waarvan ons 22 jaar getroud is en saam het ons 7 kinders,” vertel sy. “Ek en Leon trou elke jaar opnuut en dis baie opwindend om dit te doen.”
Buite om die huis is dit ‘n belewenis om te aanskou – ‘n toonbeeld van ‘n ‘Smartieboks-huis’. Dit is kleur op kleur op kleur – die huis se mure, asook die verskeidenheid van selfgemaakte ornamente in die tuin. Binne is dit die een skildery op die ander en selfs laaikaste word verskillende kleure geverf, met ‘n ou yskas wat op sy sy lê, wat ook geverf is. Selfs ‘n kunstige kandelaar wat uit die plafon hang, is van dryfhout en wynvatringe gemaak, om nie eens van die bontgeverfde trapleer te praat nie. Die woonkamer is van hoek tot kant met ornamente en selfs stapels ou reistasse gevul. “Ek kan nie ‘n ou reistas weerstaan nie, dis asof ek my inleef in waar die tas oral ‘getoer’ het en hoeveel ‘lewenswinters’ daarin opgesluit lê.” Met ‘lewenswinters’ verwys Dorothy na die innerlike seerkry van mense.
Foto: Dorothy in haar studio.
Sy vertel dat niks wat sy doen of aanpak ‘plein en simpel’ is nie, dit moet net eenvoudig anders wees, want dít is Dorothy. Selfs haar brode wat sy bak is anders en kunswerke op hul eie. Sy sê sy tree ook nie so op om mense te beïndruk nie, “ek is maar net wat ek is.” Om hier te lees oor wat alles in haar huis is, is dalk om te dink dit kan ‘goedkoop’ lyk – groot fout – elke ornament, elke kas, elke skildery, elke alles in en om haar huis spreek van ‘n absolute kunstalent en goeie smaak. Hierdie sprankelende en spontane mens raak vir ‘n oomblik stil en kyk die onderhoudvoerder direk in die oë: “Om alles te verf, is vir my om lewenstrauma en lewensseer toe te verf – lewenswinters!” – dan verstaan mens beter. Selfs haar elektriese fiets is kunstig bont geverf en sy noem hom haar ‘Harleymysin’, met ‘n prominente spaarwiel wat op die fiets aangebring is.
FOTO: Dorothy op haar Harleymysin.
Wat ‘n belewenis van ‘n onderhoud met ‘n sprankelende en spontane vrou was dit nie. Eintlik kan ‘n boek en nie ‘n berig oor haar geskryf word, asook met haar eie ‘lewenswinters’ van seerkry agter die rug – maar met ‘n vreugde in haar binneste teenoor elkeen wat haar pad kruis.
Hardus Botha