Home Animals Die grootwithaai is in (Klein)baai! Maar waar was hulle?

Die grootwithaai is in (Klein)baai! Maar waar was hulle?

1363
0

“Dis die vraag waarmee menige mariene-bioloog en wetenskaplike worstel,” vertel Christine Wessels van Dyer Island Conservation (DICT).  “Daar word vingers gewys na die orkas wat hul verskyning in die omgewing van Kleinbaai (tussen Gansbaai en Franskraal) gemaak het en wat ‘n voorliefde vir grootwithaai-lewers het.

Die lewerlose grootwithaaie het vanaf 2017 uitgespoel, en dit stem ooreen met die tyd waarin ‘n drastiese afname in grootwithaai-getalle in die ‘Haai Hoofstad’, Gansbaai opgemerk is.  Christine sê vrae word ook gevra oor of klimaatsverandering en die afname in die hoeveelheid van vis ‘n impak op die grootwithaai-getalle het.

“Hopelik sal die navorsing wat die afgelope jare by Marine Dynamics in Kleinbaai gedoen is en steeds gedoen word, onder die wakende oog van mariene bewaarder, Wilfred Chivell, tog eendag meer antwoorde as vrae oor die grootwithaai-getalle in en om die Suid-Afrikaanse kus oplewer,” het Christine gesê.  Hoe dit ookal sy, sy sê vir toeriste en die bemanning van die haaiboot, Slashfin, was Sondag ‘n emosionele ervaring.  Die afgelope tyd was dit meestal koper- en skerpneus-haaie wat by die eko-toerisme bote gewaar is.  Sondag het groot opgewondheid geheers toe ‘n wyfie grootwithaai van sowat 2,5-meter, duidelik sigbaar en vlak naby die boot geswem het.

 

Die afgelope week het elke dag tussen 2 en 3 grootwithaaie opgelewer wat die Marine Dynamics se bote besoek het.  “Dit is dus veilig om te sê dat die grootwithaaie weer terug is in Kleinbaai,” het Wilfred gesê.  Hy het juis in 2000 met sy Marine Dynamics eko-toerisme aktwiteite in Kleinbaai begin met die doel om mense “die wonder van die grootwithaai, wat vir 400 miljoen jaar die oseane bewoon, te laat ervaar.”  Hy het ook die klem op die afnemende getalle van verskeie mariene spesies as gevolg van menslike invloede, geplaas.”

“Met die haaihok-duike word besoekers in ‘n hok geplaas om die wonderwêreld van die oseaan, asook die grootwithaai in sy natuurlike omgewing te ervaar,” het Christine gesê.  “Deur Wilfred se eko-toerisme projekte word navorsings-projekte oor die grootwithaai befonds, sodat data, plaaslik en internasionaal, deur universiteite en wetenskaplikes gebruik kan word om soveel as moontlik inligting oor die spesie se dalende getalle in te win.”  Volgens Wilfred speel die grootwithaai ‘n krities-belangrike rol as top-roofdier in die mariene eko-sisteem.  Grootwithaaie, asook ander haaie wat deur die besoeker in ‘n haai-duikhok besigtig word, word later ambassadeurs vir die beskerming van die grootwithaai wêreldwyd.

Maar vir nou is die grootwithaaie hier om besoekers aan Kleinbaai en Marine Dynamics te herhinner aan die top-roofdier wat ons as mens nie nodig het om te vrees nie, maar beslis moet beskerm.

Hardus Botha

 

Previous article‘Lekker Gansbaai’ echoed through the theatre… Tremendous success at the World Fitness Federation – Cobus Briedenhann
Next article17-year-old Charl Eksteen in Boland u/18 Cravenweek rugby-team