Home Sport Franskraal Rolbalklub Walvis Classic Rolbaltoernooi 5 Desember 2025

Franskraal Rolbalklub Walvis Classic Rolbaltoernooi 5 Desember 2025

32
0

Die mondigwording van die Walvis Classic Rolbaltoernooi van 28-29 November 2025 is terselfdertyd gevier – 21 jaar is ‘n lang tyd. Hierdie rolbaltoernooi is een van die hoogtepunte op die rolbalagenda en word as ‘n baie gewilde kompetisie beskou. Dit was twee dae se vasbyt en aanhou-en-uithou in die bloedige hitte op die bane. ‘n Goeie sportmansgees is egter deurgaans gehandhaaf en ou vriende het mekaar weer gesien en nuwe vriende is gemaak.

Veertien spanne vanuit nege omliggende dorpe se rolbalklubs het vir die kompetisie ingeskryf – sowat 56 rolbalspelers. Lanie Swart, president van Franskraal Rolbalklub, het die pryse oorhandig – al veertien spanne het pryse ontvang.

Die spanne word in wenvolgorde, 1ste tot 14de, met die Skips se name in hakkies, hiermee weergegee: Old Oak (Danie Tredoux); Edgemead (George Roos); Strand (Jonetta Joubert); L’Agulhas (John Woodcock); Bonnievale (Wictor Herbert); Old Oak (Steve Grange); Franskraal (Tommie van Niekerk); Goodwood (Dawie Burger); L’Agulhas (Rynhard van der Ryst); Witsand (Jan Storm); Franskraal (Charl Conradie); Hartenbos (Dixi van Rensburg); Witsand (Nico Uys); L’Agulhas (Piet van Wyk).

“Ons beskou die kompetisie as ‘n baie groot sukses,” het Kokkie Kok die Gans-Berg Nuus meegedeel. “Veral die groot getal inskrywings wat ons ontvang het, wat ook die gewildheid van hierdie toernooi beklemtoon.” Hy sê die dames in die kombuis het hulle op die eerste dag, sonder elektrisiteit, uitstekend van hul taak gekwyt om die spelers se honger mae te vul. Die tweede dag het die krag gelukkig vroeg aangekom en kon hulle rustiger werk.

Voor die oorhandiging van die pryse is die gewilde ‘Wiel’ vir die wen van ‘n hamper deur Hester Stiglingh-Stanton van die Goodwood-span gedraai – met die wenner as David Roos van Franskraal Rolbalklub. Die lootjietrekking vir ‘n yslike bottel rooiwyn is deur Riaan Smuts van die Witsand-span gewen. Die rolbalsaal was stampvol en daar is gesellig en soos ou vriende saamgekuier, met heerlike eetgoed wat deur die vlytige kombuisdames voorberei is.

Hardus Botha

Previous articleGansbaai Gholfklub 5 Desember 2025
Next articleGANS-BERG NEWSPAPER 23 JANUARY 2026

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here