-‘Romanse’ het in Franskraal begin-
Foto bo: Marciel Hopkins tydens haar besoek aan die Kersmark in Desember 2016, saam met die destydse organiseerders, Thys en Linda Cilliers.
Die beeldskone Marciel Hopkins (28), ‘n voormalige Mej Suid-Afrika Finalis in 2016, toe 22, en ook die bekende Kupido van Boer soek ‘n Vrou, het op 9 April 2022 Mev Marciel Hopkins-Lourens geword toe sy met Handré Lourens (31), ‘n Finansiële Bestuurder, in die huwelik getree het – ou nuus, sou mens kon sê – maar wie onthou haar besoek en spontane optrede in Gansbaai sowat 6 jaar gelede gedurende November/Desember 2016?

Marciel se bereidwilligheid om by gebeure en spesiale geleenthede in Gansbaai en omgewing betrokke te raak, is met altwee hande aangegryp. Dit was Desembermaand en baie vinnig moes sy verskeie dagboekaantekeninge maak: beoordeling van Mnr en Mej Uilkraal, medalje-oorhandigings by Gansbaai Lionsklub se Oujaars-Halfmarathon, besoeke aan Herberg-aan-See Tehuis vir Bejaardes, Gansbaai Toerisme, die Kersmark en nog meer. Tydens haar optredes in Gansbaai, het sy haarself as ‘n ware omgee-mens bewys en ook die kinders se harte gesteel. Vir haar gewilligheid en spontane samewerking, het skrywer hiervan probeer opmaak en vir Wilfred Chivell van Dyer Island Cruises van Marciel gaan vertel. Wilfred het dadelik ingestem tot ‘n gratis eko-walvisbesigtingings-bootrit vir ons belangrike besoeker.

In 2014 het Marciel haar BA Drama-graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, waar sy ook Primaria van die dameskoshuis, Huis ten Bosch, was. Aan die einde van 2015 het hierdie aantreklike slimkop ook haar Sielkunde Honneurs te Stellenbosch verwerf. Sy het ook as vrywilliger beroepsvoorligting in Kayamandi vir Gr 9 leerders aangebied. “My passie in die lewe is opvoeding en die ontwikkeling van vaardighede. My belangrikste boodskap aan Suid-Afrika se vroue is: Moet nooit beperkinge vir jouself stel nie, droom groot en werk hard om dit ‘n realiteit te maak!” het Marciel destyds gesê.
Hardus Botha
































