Home Animals Kleurvolle Kousbandjie in De Kelders gevind

Kleurvolle Kousbandjie in De Kelders gevind

36
0

Nee, dit is nie iemand wat sy kousbandjie in De Kelders verloor het nie – dit is die Spotted Harlequin slangetjie, oftewel Homoroselaps lacteus, ‘n kleurvolle, gevlekte slangetjie wat in Afrikaans as die Gevlekte Kousbandjie bekendstaan. Die knapie is deur ‘n buurman langs sy woning in De Kelders raakgesien. ‘Kousbandjie’ het hom soos blits ontglip en tussen die plaveistene voor die voordeur gaan wegkruip – waar hy die buurman wéér ontglip het en, soos jy “mes” kon sê, oor die stoeptrappie in die braaikamer in is. Daar kon hy toe in ‘n hoekie gevang en in ‘n glasbottel gesit word!

Gelukkig vir ‘Kousbandjie’ is die buurman ‘n groot natuur- en diereliefhebber. Daar is net foto’s van die slangetjie geneem, met bure wat kom loer het hoe dié knapie lyk. Daarna is ‘Kousbandjie’ op ‘n veilige plek in die veld vrygelaat – en, volgens buurman, het hy soos mis voor die son verdwyn.

Iets oor ‘Kousbandjie’
Die Spotted Harlequin-slangetjie (Homoroselaps lacteus) is ‘n kleurvolle, klein slangetjie wat in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap, voorkom en liggies giftig is.

Basiese kenmerke:
*Lengte: Gewoonlik tussen 30-40 cm, met ‘n maksimum van 65 cm.
*Voorkoms: Die kleur varieer sterk volgens streek, maar is gewoonlik helder en opvallend.
*Habitat: Kom voor in fynbos, laaglandwoude, vogtige savanne en graslande. Hulle skuil dikwels in verlate termiethope, onder klippe, boomstompe of bourommel.

Giftigheid en gedrag:
*Giftigheid: Liggies giftig – die slangetjie se byt kan pyn, swelling en verkleuring veroorsaak. Daar is geen spesifieke teenmiddel beskikbaar nie en behandeling is simptomaties.
*Gedrag: Wanneer dit ontwrig word, sal dit heftig kronkel om te ontsnap.
*Dieet: Voed op pootlose skinke, blindeslange, ander klein slangetjies en akkedisse.
*Verspreiding en bewaring: Kom voor in Suid-Afrika (veral die Wes-Kaap) en Eswatini.
*Bewaringsstatus: Volgens die IUCN (International Union for Conservation of Nature) se wêreldwye databasis wat spesies volgens hul bewaringsstatus klassifiseer, is die slangetjie as ‘Least Concern’ geklassifiseer – dus tans nie bedreig nie.

Nouja, danksy die natuurlefhebber wat vir ‘Kousbandjie’ aangekeer het, is hy weer veilig op vrye voet – of liewer, op vrye maag – in die veld losgelaat waar hy tuishoort!

Hardus Botha

Previous articleGansbaai Marine se Langasems: ‘n Jaarlikse Trots
Next articleGansbaai Gholfklub 5 Desember 2025

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here