Home Community Storie-konsert wat sê: leef elke dag voluit – 2 JANUARY 2026

Storie-konsert wat sê: leef elke dag voluit – 2 JANUARY 2026

1
0

Liewer laat as nooit, lui die spreekwoord – en in die geval van Francois en Elizabeth se musiek- en storie-konsert met die tema Wil jy dans, Carina, was dit allesbehalwe te laat om daaroor te skryf. Die konsert, aangebied op 20 November 2025 deur die NG Kerk se Gansvryheidsdienste onder leiding van Elcine Hulme en haar gedugte span dames, het die Pretoriussaal gevul met musiek, stories en emosie – en was sonder twyfel ‘n enorme sukses.

Met Francois op die kitaar, soms ook Elizabeth, aangevul deur hul sangstemme, kon daar kwalik ‘n beter kombinasie wees. Voeg daarby hul uitnodiging aan die gehoor: “As iemand se voete jeuk om hier voor te kom dans, maak gerus so!” – en die toon vir ‘n besondere oggend was gestel. Elizabeth het die gehoor herinner dat elke mens en elke gesin ‘n storie het – “dit sê dat jy lééf!” het sy gesê. “Elke storie begin êrens, en my storie het begin toe ek my eerste liedjie self geskryf het.”

Daardie storie het verder ontvou met die liedjie wat ontstaan het toe sy en Francois mekaar ontmoet het. “Ons was studente aan die Onderwyskollege en het saam in ‘n opvoering opgetree,” het sy vertel. “Francois in die manlike rol en ek as diensmeisie in die hoofrol.” Lang storie kort: haar antwoord kort daarna was “JA”, en die koeël was deur die kerk – met Wil jy dans, Carina. Hulle het dit nooit beplan as ‘n treffer nie, maar die liedjie het ‘n uitstaande sukses geword. In 1992 was dit onder die eerste Top 7-liedjies op RSG, nog in Edwill van Aarde se tyd. Daarna het Elizabeth die een liedjie na die ander geskryf, insluitend sowat 150 kleuterliedjies.

Die res van hul optrede in die Pretoriussaal het die verloop van hul lewens weerspieël. Vir elke belangrike gebeurtenis was daar ‘n liedjie wat Elizabeth geskryf het en wat die twee saam gesing en opgevoer het. Dit was juis hierdie storie-konsert-formaat wat vir aanhoudende applous gesorg het. Dit was nie ‘n gewone sangoptrede nie, maar ‘n unieke kombinasie van musiek, humor, beweging en toneelspel – sonder twyfel genotvol, met baie lag en hier en daar ook ‘n traan.

Na afloop van die konsert is die gaste met ‘n smaaklike ete bederf, voorberei deur die Gansvryheidsdames, soos net húlle dit kan doen. Tydens die gesellige saamkuier was dit duidelik dat baie gaste nog nooit voorheen ‘n storie-konsert bygewoon het nie. Elke liedjie het sy eie verhaal vertel, en hierdie twee sangers het dit meesterlik oorgedra. “Elke mens se storie het ‘n einde – leef dus elke dag voluit,” het Elizabeth afgesluit.

Hardus Botha

Elizabeth en Francois: ‘Wil jy Dans, Claradyn’.

 

Anita Botha (regs) het die egpaar bedank en ‘n blyk
van waardering oorhandig.

Elcine Hulme (middel), voorsitter van
Gasvryheidsdienste.

Elizabeth op haar stukke met die kitaar.

Previous articleVier-geslag-storie by LSG… Van 15-dae-oue baba tot LSG-Hoofdogter – 2 JANUARY 2026

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here