“Kan jy onthou van die berig wat jy in 2013 oor die vier geslagte dames geskryf het?” het Marna Beets tydens Laerskool Gansbaai (LSG) se Akademiese Prysuitdelingsaand gevra. Die antwoord was “Ja”, maar wat het dit met vanaand se prysuitdelings te doen? “Baie,” het Marna geantwoord. “Die vierde geslag dogtertjie van destyds, toe ons in Uilenkraalsmond saamgekuier het en sy skaars 15 dae oud was, is vanaand as LSG se Hoofdogter aangewys!” Nou ja – soos die gesegde lui: say no more!
Dit is inderdaad Lisa Beets, gebore op 10 Februarie 2013. Sy was ‘n skrale 15 dae oud toe sy saam met haar familie in Uilenkraalsmond gekuier het – as die vierde dame-geslag. Sy is destyds saam met oumagrootjie Tina Hattingh (eerste geslag – intussen oorlede), ouma Louise Pyper (tweede geslag) en ma Marna Beets (derde geslag)afgeneem.
Nou, sowat 12 jaar later, is Lisa (vierde geslag) aangewys as LSG se 2026-Hoofdogter, asook Graad 6 se Toppresteerder, met nog toekennings wat haar te beurt geval het. Lisa, as vierde-geslag-dame, het gewis baie om op trots te wees!
(Foto’s: Marna Beets)
Hardus Botha


2026-Hoofdogter en Graad 6 se Toppresteerder.






























